2 Desember 2011
Sê maar die sonoond het van die St Lucia lorrie afgeval. Toe ek sien in watter gaatjie die trekmanne hom gaan strip en indruk, het ek my voetjie neergesit en gesê hy bly hier. By my. Ek sal hom mooi oppas. En toets. En as die pekanboord eendag reg is vir hom, kan hy met liefde weer aftrek.
Die saak staan so: hulle het hom 2x gebruik. Die eerste keer het ek gesterf van die honger voordat die kos semi-gaar was, en ek was nie meer in staat om ‘n bord kos in te wurg nie. Ek kan ook nie onthou dat dit besonder aptytlik was nie. Die tweede keer het hulle ‘n rare sonvrye dag gekies en op die ou end die pot op die stoof gaan sit. Dit was die Tedelex prutpot se binnebak. Die bak het nie lank gehou op die volsterkte rooiwarm plaat nie: *pop*! Van toe af staan die armsalige oond in die wind en weer, totdat Gerrit Steenberg hom nou die dag vir my kom aflaai het.
Ek het eers by die aardskipmense wat dieselfde model het, gaan uitvis. En soos sake nou staan, is dit 12:30 en my hoenderpot is gaar. Sag en sappig en ek sal netnou terugrapporteer.
14:30. Die hoender was so sag, jy kon dit met jou vurk sny. En omdat die aardskippers gesê het dit trek water, het ek die vleis en groente vooraf met ‘n pakkie hoendersop bestrooi.
Resultaat:
- Eskom se verlies
- my wins
- volgende op die agenda: beesstert.
Kyk wie't kom eet! |
No comments:
Post a Comment